Stereofonie

Die simbool vir stereofonie, soos gebruik op stoormedia soos VHS-video, DVD, Blu-ray en Ultra HD Blu-ray

Onder stereofonie word verstaan die vermoë van die oor om te onderskei uit watter rigting 'n geluid kom. Op grond van hierdie vermoë word daar by stereofoniese klankweergawes twee of meer luidsprekers (kanale) gebruik om die indruk van dieselfde geluidsverspreiding te wek as wat tydens die opname gegeld het.

Eksperimentele stereofoniese klankweergawe het reeds in die laat 19de eeu die aandag van uitvinders getrek, terwyl eerste stereofoniese klankopnames nog voor die Tweede Wêreldoorlog gemaak is. Die eerste groot tegnologiese deurbraak is egter eers in 1958 gemaak toe klankingenieurs daarin geslaag het om twee diskrete oudiokanale in 'n enkele groef van 'n vinielplaat te stoor. Die uitdaging vir radio-uitsendings was om stereo-uitsendings ook vir monotoestelle ontvangbaar te maak. Die tegniese oplossing hiervoor is in die Verenigde State met die sogenaamde piloottoonmetode ontwikkel. Stereofonie het vanaf die 1960's geleidelik ingang gevind tot die hele spektrum van vermaaktoestelle en is tans beskikbaar vir radio- en televisie-uitsendings, musiek- en video-opnames, die internet, rekenaars, tabletrekenaars, slimfone en rolprentteaters.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search